1 ‘n Psalm van Dawid, toe hy in die woestyn van Juda was. (63:2) o God, U is my God, U soek ek; my siel dors na U, my vlees smag na U, in ‘n dor en uitgedroogde land, sonder water.
2 (63:3) Só het ek U in die heiligdom aanskou, om u sterkte en u heerlikheid te sien.
3 (63:4) Want u goedertierenheid is beter as die lewe; my lippe moet U prys.
4 (63:5) Só sal ek U prys my lewe lank, in u Naam my hande ophef.
5 (63:6) Soos met vet en vettigheid sal my siel versadig word, en my mond sal roem met jubelende lippe
6 (63:7) as ek aan U dink op my bed, in die nagwake oor U peins.
7 (63:8) Want U was ‘n hulp vir my, en in die skaduwee van u vleuels sal ek jubel.
8 (63:9) My siel is aan U verkleef; u regterhand ondersteun my.
9 (63:10) Maar húlle wat soek om my lewe te verderwe, hulle sal kom in die onderste plekke van die aarde.
10 (63:11) Hy sal oorgelewer word in die mag van die swaard; die deel van die jakkalse sal hulle word.
11 (63:12) Maar die koning sal bly wees in God; elkeen wat by Hom sweer, sal hom beroem; want die mond van die leuensprekers sal gestop word.