1 Toe antwoord Moses en sê: Maar as hulle my nie glo en na my stem nie luister nie, maar sê: Die HERE het nie aan jou verskyn nie?
2 Daarop vra die HERE vir hom: Wat is daar in jou hand? En hy antwoord: ‘n Staf.
3 En Hy sê: Gooi dit op die grond. Toe gooi hy dit op die grond, en dit het ‘n slang geword; en Moses het daarvoor gevlug.
4 Toe sê die HERE vir Moses: Steek jou hand uit en gryp dit aan die stert. Hierop het hy sy hand uitgesteek en dit gegryp, en dit het ‘n staf in sy hand geword—
5 sodat hulle kan glo dat die HERE, die God van hulle vaders, die God van Abraham, die God van Isak en die God van Jakob, aan jou verskyn het.
6 En die HERE het verder vir hom gesê: Steek tog jou hand in jou boesem. En hy het sy hand in sy boesem gesteek; en toe hy dit uittrek, was sy hand melaats, soos sneeu!
7 En Hy sê: Steek jou hand weer in jou boesem. En hy het sy hand weer in sy boesem gesteek; en toe hy dit uit sy boesem uittrek, was dit weer soos sy ander vlees!
8 En as hulle jou nie glo en aan die eerste teken geen gehoor gee nie, dan sal hulle die laaste teken glo.
9 En as hulle ook hierdie twee tekens nie glo en na jou stem nie luister nie, neem dan van die Nyl se water en giet dit op die droë grond uit; dan sal die water wat jy uit die Nyl neem, op die droë grond bloed word.
10 Toe sê Moses aan die HERE: Ag, Here, ek is nie ‘n man van woorde nie—van gister of van eergister of vandat U met u kneg gespreek het nie; want ek is swaar van mond en swaar van tong.
11 En die HERE antwoord hom: Wie het vir die mens die mond gemaak, of wie maak stom of doof, of siende of blind? Is dit nie Ek, die HERE, nie?
12 Gaan dan nou heen, en Ek sal met jou mond wees en jou leer wat jy moet sê.
13 Maar hy sê: Ag, Here, stuur tog deur wie U wil stuur.
14 Toe ontvlam die toorn van die HERE teen Moses, en Hy sê: Is jou broer Aäron, die Leviet, nie daar nie? Ek weet dat hy goed kan praat. En hy gaan ook al uit om jou te ontmoet, en as hy jou sien, sal hy bly wees in sy hart.
15 Jy moet dan met hom spreek en die woorde in sy mond lê. En Ék sal met jou mond en sy mond wees en julle leer wat julle moet doen.
16 En hy moet vir jou met die volk spreek, en dan sal hy vir jou ‘n mond wees en jy vir hom ‘n god wees.
17 Neem dan hierdie staf in jou hand waarmee jy die tekens moet doen.
18 Toe gaan Moses weg en kom by sy skoonvader Jetro terug, en hy sê vir hom: Laat my tog trek en na my broers teruggaan wat in Egipte is, om te sien of hulle nog lewe. En Jetro sê vir Moses: Gaan in vrede.
19 Ook het die HERE vir Moses in Mídian gesê: Gaan heen, keer terug na Egipte; want al die manne wat jou lewe gesoek het, is dood.
20 Moses neem toe sy vrou en sy seuns en laat hulle op ‘n esel ry, terug na Egipteland. Moses het ook die staf van God in sy hand geneem.
21 En die HERE sê vir Moses: Nou dat jy wegtrek om na Egipte terug te gaan, kyk dat jy al die wonders voor Farao doen wat Ek in jou mag gestel het. Maar Ék sal sy hart verhard, sodat hy die volk nie sal laat trek nie.
22 Dan moet jy vir Farao sê: So spreek die HERE: My eersgebore seun is Israel.
23 Daarom beveel Ek jou: Laat my seun trek, dat hy My kan dien. Maar jy het geweier om hom te laat trek. Kyk, Ek sal jou eersgebore seun laat sterwe.
24 En op die pad in die herberg het die HERE hom teëgekom en wou hom doodmaak.
25 Toe neem Sippóra ‘n skerp klip en sny die voorhuid van haar seun af en gooi dit voor sy voete en sê: Waarlik, jy is vir my ‘n bloedbruidegom!
26 En Hy het hom laat staan. Toe het sy gesê: Bloedbruidegom! —met die oog op die besnydenis.
27 Die HERE het ook aan Aäron gesê: Loop Moses tegemoet in die woestyn. En hy het geloop en hom by die berg van God aangetref en hom gesoen.
28 Daarop vertel Moses aan Aäron al die woorde van die HERE waarmee Hy hom gestuur het, en al die tekens wat Hy hom beveel het.
29 En Moses en Aäron het vertrek en al die oudstes van die kinders van Israel bymekaar laat kom;
30 en Aäron het al die woorde gespreek wat die HERE aan Moses gesê het, en die tekens gedoen voor die oë van die volk.
31 En die volk het geglo. En toe hulle hoor dat die HERE op die kinders van Israel ag gegee en hulle ellende aangesien het, het hulle in aanbidding neergebuig.